Ma Bootha se Sagopoeding

 

Hierdie poeding het my Ma my leer maak en moes ek dit Sondag vir Sondag voorberei vir my Pa wat mal is hieroor.  Hy vra altyd na die poeding met die baie sous!

 

1lt melk

2k fyn sago

1k suiker

4 eiers

Homp botter(dis die sous wat my pa na verwys)

1t vanieljegeursel

 

Kook melk in `n dikboom kastrol en voeg sago by.  Stel plaat laer en roer aanhoudend totdat sago deurskynend is en vulsel lekker dik is.  Klits intussen die eiers, suiker en geursel saam en gooi in `n gesmeerde bak.  Voeg gaar melksago by die eiermengsel en roer deur.  Voeg botter in die middel van die bak by en plaas in die oond van 180 grade vir 1 uur of tot gestol.